Wanneer die herberge teen my gesluit word
As ek van vermoeienis klein is
Vlam jy ‘n vuurherd van vertroosting
Jy laat die grys van gister
Rooi in donker klowe blom
In my hart plant jy
‘n Woud van stilte
Wanneer ek teen die skemer se sperdraad verstar
Die nag soos ‘n tronk om my sluit
As my oë oorstroom
Verjaag jy die droefnis met die oop horison van jou stem
Wanneer die twyfel snuffel aan my dink
As ek steier teen die afgrond (van vreemde kennis)
Leer jy my vlieg soos ‘n boot met seile