Ons is gesoute reisigers
Deur dop en lied, deur klank en vers
Ons is ballings uit 'n paradys
Orals bekend maar nêrens tuis
Agter elke grens 'n vreemde taal
In elke stad sy katedraal
Maar hoe jy ook al sing of vra
Jou toekoms bly in Afrika
Hoe lank moet jy nog aanhou soek
Deur kaart of bybel, gids of boek?
By watter herberg teen die wind
In watter stal jou heiland vind?
Onder watter ster of noorderlig
Bly ons strompel, blind en sonder sig
Slegs die suiderkruis wag lankal daar
Ons toekoms is in Afrika
As die nag finaal sy mantel gooi
As die son verdof van wit tot rooi
As die stede stil word, mense bang
In die woude niks meer voëlgesang
Sal ons wat weet, ons voete wend
Terug na die donker kontinent
Die laaste lente volg weldra
Maar ons toekoms is in Afrika x2
Want eendag is ons kinders daar
Nou reis ons weer saam na Afrika