'n Meisietjie stap uit Saigon
met rook wat om haar walm
sy ken reeds vroeg die dood wat kleef -
hul noem dit hier napalm
'n Seuntjie met die Dawidster
dra saam met hom die vrees
dat die teken teen die deur dalk weer
'n hakekruis kan wees
(koor)
In die branding van ons oorloë
aan die kantlyn van die stryd
is 'n leërskare kinderoë
wat jou en my verwyt;
maar as jy fyn sou luister
bo die gedreun van tenk en bom
hoor jy iemand dringend fluister:
"Laat hul dan na my toe kom."
In Afrika se donker hart
is die coup d'etat verby:
'n moeder steek die grens oor
met 'n kleuter aan haar sy
In Ulster weet die kinders
hoe 'n landmyn kan verras;
hoe vinnig die inferno
selfs soldate kan veras.
(koor)
'n Loopgraaf word die woning
vir die kinders van Beiroet
waar die veldslag deur gebou-spelonke
daagliks om hul woed.
In verre Kampuchea
skuil 'n seuntjie in die woud;
hy sien hoedat sy dorpie brand -
hy's jonk, sy oë is oud
(koor)