Die houtgeweer is dom
en die houtgeweer skiet krom,
maar die houtgeweer
word profeet, meneer
oor die oorloë wat nog kom
Al word die kinders vaak
skiet die houtgeweer steeds raak
en die houtgeweer
se skynverweer
sal soldate van hul maak
(koor)
Om te sterf is pynloos, snel
as die houtgeweer jou fel
waar die sneller knal
en die vyand val
word die dood 'n skaduspel
Om te weifel is fataal
dis 'n roer wat selde faal-
wat só sekuur
deur 'n houtmik vuur
laat die vyand duur betaal
Voor die teiken kan verdwyn,
die verbeelding dalkies kwyn
het die skoot getref
en die kind besef
hy's soldaat, al is hy klein
(koor)
En so word die gereg
deur due houtgeweer besleg,
deur die speelvisier
word die dood gevier:
wat verkeerd was, word nou reg
(herhaal vers 1)